jannie se lewensreis

50 Jaar op pad met Afrikaanse musiek

Johannes Hendrik du Toit is in Heidelberg (in die destydse Oos-Transvaal) gebore en het aan die Hoërskool Menlopark in Pretoria gematrikuleer. Na sy militêre opleiding aan die Lugmaggimnasium in Valhalla, behaal hy 'n B Iuris LLB van die RAU (nou UJ) en later ‘n honneursgraad in Afrikaans by Tukkies. Gedurende sy studentejare het hy betrokke geraak by rock- en popgroepe, en hy was ook stigterslid van die Afrikaanse folkgroep, TRILOGIE, wat tydens die “American Song Festival” in 1976 met 'n ereprys bekroon is en ook meermale die eindrondte van die ATKV se Crescendo-kompetisie bereik het. Die groep het in daardie jare op talle TV-programme verskyn – onder andere ‘n hele paar keer in 1975 tydens SATV se eerste proefuitsendings. Na sy studies het hy sy leerklerkskap in die Regte voltooi en is hy as prokureur toegelaat. Hy skryf sy bekende “ ‘n Liedjie vir jou” in 1978 en speel ‘n leidende rol in die MUSIEK en LIRIEK- beweging van die laat sewentigs – onder andere deur “Liedjie-aande” in sy huis – Margaretastraat 28 in Pretoria, aan te bied sy bekende vriende soos Koos Doep, Coenie de Villiers, Anneli van Rooyen en Lucas Maree gereeld musiek gemaak het.

Hy verlaat die regswêreld en word in 1981 deur die komponis prof Chris Lamprecht as kultuurbeampte by die Universiteit van Pretoria aangestel. Hy het 'n aantal musiekblyspele, waaronder Loeloeraai en Gansdans, vir 'n studentegroep geskryf en aangebied, en hy werk onder andere saam met die Afrikaanse teaterdiva, prof Anna Neethling-Pohl. Daarna is hy deur TRUK (die Raad vir Uitvoerende Kunste) as organiseerder van ligte musiek aangestel, waar hy jazz- en kabaretprogramme bekendgestel het en verantwoordelik was vir “Kerslig Vers en Melodie” waarin veral beoefenaars van Afrikaanse Kleinkuns hulle musiek aan die publiek bekend kon stel. Sedert 1988 word hy beter bekend as kabaretsanger, veral deur sy optredes saam met die beroemde pianis / komponis / begeleier Christa Steyn in Nederlandstalige en Afrikaanse kabarette. Daar was samewerking met vooraanstaandes in hierdie veld, waaronder Ilse van Hemert, Stephan Bouwer en Laurika Rauch en hy het ook onder die invloed van die Europese Kleinkuns gekom: veral die blinde Nederlandse sanger Jules de Corte en die bekende Jacques Brel. Sy internasionale optredes tot op datum sluit in: Namibië, Zimbabwe, Nederland, België, Kanada, die VSA, Australië, Nieu-Seeland, Groot-Brittanje, Duitsland, Rusland en Taiwan.

Hy het in 1990 vryskut geword en verspreiding van sy eie CD's het gelei tot die ontstaan van JNS Musiek, 'n onderneming wat die belange van minder kommersiële plaaslike musiek bevorder het. Ongeveer 150 plaaslike albums waaronder Coenie de Villiers Lucas Maree, Amanda Strydom, Mimi Coertse, Werner Nel, die Libertaskoor en Surrendran Reddy is deur hierdie onafhanklike maarskappy vrygestel en versprei.

Jannie het 'n diep liefde vir taal en verkies om goed versorgde liedjies te sing wat nadenke uitlok of 'n boodskap van een of ander aard oordra. Hy verwys na sy werk as eklektiese teksmusiek: eklekties in die sin dat die genre van musiek letterlik enigiets kan wees, van klassiek tot kabaret en folk: die rol van die musiek is altyd om die teks so goed moontlik te ondersteun. Hy bied vir meer as ‘n dekade saam met Christa Steyn, Lucas Maree en Johann van der Watt, die ATKV Liedjie-werkswinkel aan. Kursusgangers het vir ‘n week in Juliemaand insae gekry in akkoorde en musiekstrukture (Christa), tekste en ritme (Lucas), die skeppende proses (Johann) en die “huwelik” tussen woorde en musiek (Jannie).

In 2009 word die Akademie vir Wetenskap en Kuns se erepenning aan hom toegeken vir sy lewenslange bydrae tot Afrikaanse musiek. Hy kry in 1998 en 2019 ook vererings van die FAK en deur die jare onder andere van die ATKV, die Voortrekkers, die Rapportryers en die Innibos Kunstefees.

Jannie en Christa Steyn, het vir 25 jaar – vanaf 1986 tot 2011 - op die verhoog, in ateljees en as skeppende kunstenaars saamgewerk en wêreldwyd getoer. Christa is in 2011 met kanker gediagnoseer en is na ‘n baie moeilike tyd in 2012 oorlede. In die dekade sedertdien het hy saam met verskillende ander kunstenaars gewerk en verskeie musiekproduksies op die planke gebring - agt nuwe albums (waaronder Ligjare, wat hy in 2013 aan Christa opgedra het) en drie DVD's is uitgereik. Vyf van sy produksies is gedurende die dekade ook volledig deur kykNet uitgesaai. Hy werk saam aan die nuwe uitgawe van die FAK Sangbundel en versorg in 2019 ‘n reeks praatjies vir RSG – getitel Edelwyn – oor sy geliefde genre, die Kleinkuns.

Die hede en die onmiddellike toekoms

Jannie is nog uiters aktief as sanger/verhoogkunstenaar en die volgende produksies word op die oomblik steeds van tyd tot tyd aangebied.

Lees ook die volgende ...

Kontak Jannie

Jannie kan hier gekontak word:

+27 72 460 5568

+27 72 460 5568

+27 82 410 4046

Volg Jannie
Belangrike skakels
thewebman.co.za