Ramkietjie is ’n huldeblyk aan die rykdom van die FAK Sangbundel – ‘n skatkis van tradisionele en ander Afrikaanse liedjies wat geslagte lank gesinne, musiekleerlinge en kunstenaars begelei het.
Van die bekende “Op my ou ramkietjie” en “Die Magaliesburgse Aandlied” tot die poëtiese “Ou Musikant” en “Die Mannetjie”. Volgens Jannie het hy hierdie keuses gemaak op grond van persoonlike verbintenis en artistieke waarde. “Sommige van die ou liedjies het ’n nostalgiese konnotasie – ek ken hulle van kindsbeen af. Ander, soos Jan Pohl en Danie Bosman en ander meer onlangse liedjieskrywers se werk, het ’n besondere digterlike kwaliteit en sintese tussen taal en musiek.”
Die program sluit ook geliefde, meer onlangse, liedjies van Lucas Maree, David Kramer, Koos Doep, Anton Goosen, Louis van Rensburg en Johannes Kerkorrel in. Ramkietjie is Jannie se vlagskipproduksie vir 2026 en bring bekende liedere, stories en nostalgie op ’n eg Suid-Afrikaanse manier na gehore regoor die land.
Dis ’n besondere musiekervaring wat vanaf 29 Mei 2026 landwyd op toer is ter viering van Afrikaans se ryk musiekerfenis en Jannie se merkwaardige 55 jaar op die professionele verhoog.
Jannie word in die program RAMIETJIE van tyd tot tyd begelei deur die pianiste Johan Heystek en Chanie Jonker en soms sluit die tjelliste Susan Mouton, Rina Schutte en Graham du Plessis by hulle aan. Die verhoogproduksie het voortgevloei uit die album OP MY OU RAMKIETJIE wat Jannie in 2025 opgeneem het.
GEEN Kunsmatige Intelligensie (AI) is gebruik met die maak van hierdie webblad nie.
Alles in hierdie webblad is eg en outentiek Jannie du Toit